Bladsy 5



SJOKOLADE TERT


Meringue
6 eierwitte
250 ml strooisuiker
6 eiergele
50 ml kakao
3 ml sout

Vulsel
2 pakkies (90 g elk) kitspoeding, vanieljegeur
250 ml room
500 ml melk

Bolaag
300 g sjokolade, gesmelt
75 ml water
75 ml brandewyn
50 ml botter

Vir die meringue:
Stel die oond op 160°C. Klop die eierwitte tot sagte punte vorm. Klop die strooisuiker geleidelik by. Klop die eiergele, kakao en sout en voeg by. Skep die mengsel in ´n gesmeerde tertbak van sowat 320 mm x 180 mm en smeer plat. (Dis is nogal ´n dik laag, maar die vulsel druk dit uiteindelik platter.) Plaas die meringue in die voorverhitte oond en bak sowat 40 minute.

Vir die vulsel:
Klop al die bestanddele saam tot styf en giet die mengsel in die afgekoelde meringuekors.

Vir die bolaag: Meng al die bestanddele saam en smeer die mengsel eweredig oor die vulsel.



KOFFIE-EN-AMARULA-NAGEREG


So lig soos 'n soufflé en absoluut heerlik!

20 ml koffiepoeier
125 ml kookwater
300 g malvalekkers
1 blik (410 g) verkilde, ingedampte melk
30 ml Amarula-room
125 ml gekapte neute

Los die koffie in die water op. Giet in groterige kastrol en plaas die malvas daarin. Laat eenkant tot die lekkers feitlik heeltemal gesmelt is. Klits intussen die koue melk tot styf. Roer die koffie-malvamengsel deur om seker te maak dat al die lekkers opgelos is. Roer die mengsel dan by die styfgeklitste melk in. Voeg Amarula en neute by en roer deur. Skep in individuele glase of in 'n groot bak. Plaas in yskas om te stol.
Dien op met room en enige vars vrugte na keuse.


SUURLEMOEN YSKASTERT


1 blikkie kondensmelk
1 koppie suurlemoensap
1,5 liter vla (lekker dik aangemaak met 1 pakkie tennisbeskuitjies.
genoeg suiker om dit soet te maak)

Meng die kondensmelk met die suurlemoensap. Pak 'n ry tennisbeskuitjies onder in 'n vierkantige glas/platiek bak. Giet helfde van die vla oor en laat 'n rukkie afkoel, giet nou weer die helfde van die kondensmelk mengsel oor, en smeer eweredig oor vla. Pak weer 'n ry tennisbeskuitjies en giet die res van die vla daaroor, laat weer bietjie afkoel. Gooi nou die res van die kondensmelk mengsel oor die vla eweredig gesmeer en krummel 'n paar fyngemaakte beskuitjies bo-oor. Plaas in yskas en laat stol.


MISSISSIPI MUD PIE


250g botter
15ml brandewyn of whiskey
180ml suiker
250g donker sjokolade, fyn gekap
375ml warm water
375ml bruismeel
60ml kakao
2 ekstra groot eiers
5ml vanielje geursel

Voorverhit die oond tot 180C. Bespuit ‘n 22cm koekpan met kleefwerende kossproei. Smelt die botter oor lae hitte in ‘n kastrol. Voeg die brandewyn, suiker sjokoladestukkies en water by. Roer totdat die sjokolade net gesmelt en die mengsel glad is. Sif die bruismeel en kakao saam en klits dit stadig by die sjokolade-mengsel in. Voeg die eiers en vanielje geursel by en klits tot gemeng. Skep in voorbereide koekpan en bak 40-45 minute lank of tot die toetspen skoon uit die middel van die koek kom. Laat 15 minute in pan en keer uit. Sit warm of koud voor saam met room en bessies. Lewer 1 medium koek.


MA SE PAMPOENTERT


600g gaar pampoen
410g-blik kondensmelk
3 eiers, geskei
5ml gemmer
fyn kaneel

Meng pampoen, kondensmelk, gemmer en geel van eiers saam. Voeg geklitste eierwit laaste by, meng en gooi in gesmeerde tertpan en bak ongeveer 30 minute lank teen 180C. Strooi fyn kaneel oor sodra tert uit die oond kom.


BESKUITJIE STRUIF


1 pakkie aarbei jelliepoeier
250 ml kookwater
250 ml kouewater
1 blik karamel kondensmelk
1 pak beskuitjies
200g 500 ml vlasous
1 blik 410g vrugtekelkie gedreineer
125 ml neute (pekan)

Los die jelliepoeier in die kookwater op. Voeg die koue water by en meng. Gooi in biedjie van die jellie in ‘n diep glasbak met ‘n volume van 1.5 L . laat dit in die koelkas stol. Laat die oorblywende jellie afkoel totdat dit dik is, maar nie gestol nie. Smeer ‘n dik laag karamelkondensmelk op die beskuitjies. Plaas ‘n laag beskuitjies op die gestolde jellie in die bak. Gooi ‘n laag vlasous oor. Skep van die vrugte daarop en strooi van die neute oor. Bedek dit met ‘n laag jellie. Herhaal die lae totdat al die bestanddele opgebruik is. Plaas die beskuitjiestruif in die koelkas sodat die jellie kan stol. Dien dit yskoud op. Roomys of geklitste room smaak lekker hierby.


PLAIN JANE SE WARM SJOKOLADE POEDING


60 ml botter gesmelt
180ml suiker
1 eier
5ml vanielje essens
250ml meelblom
22.5ml kakao
3ml sout
10ml bakpoeier
180ml melk
250ml kookwater
250ml bruinsuiker
30ml kakao

Room die botter en suiker. Voeg die gekliteste eier en vanielje essens by. Sif die meelblom, kakao, sout en bakpoeier saam. Voeg dit om die beurt Met die melk by die bottermengsel. Skep die mengsel in n diep gesmeerde oondskottel. Meng die kookwater, suiker en kakao en kook vir drie minute lank. Gooi oor die deeg in die oondskottel. Bak by 180C vir 30 minute lank.


BROOD EN BOTTERPOEDING


16-20 snye witbrood, 1-2 cm (1½ duim) dik botter
8 eiers
2 koppies suiker
2 teelepels sout
4 liter melk
2 koppies rosyne
1 koppie fyn klapper
appelkooskonfyt

Smeer die brood dik met botter. Rangskik die snye met die gesmeerde kant na onder in ‘n gesmeerde pan, konfyt kan of bo-op gesmeer word aan nie gesmeerde kant of kan in klontjies oral gesit word. Klits die eiers en voeg die suiker, sout en melk daarby. Strooi die rosyne of klapper tussen die snye brood. Gooi die melkmengsel oor die brood en laat dit 30 minute lank staan. Sit die deksel van die bakskottel op en bak by ‘n matige koel oond by 160C. Verwyder die deksel na die eerste halfuur en bak totdat die poeding bo-op mooi bruin is. Bedien met vlasous.


TROPIESE VLASKYWE


1x 200g Cream Crackers
5x250ml melk
50ml botter of margarien
250ml suiker
125ml koekmeelblom
125ml mielieblom
50ml vlapoeier
knippie sout
3 eiers geskei
125ml koue water
vanielje geursel

Pynappellaag:
250ml suiker
25ml vars suurlemoensap
440g fyn pynappel, gedreineer & deur sif gevryf

Glansversiersel:
300ml versiersuiker, gesif
50ml kookwater

Rangskik die helfte van die beskuitjies in ‘n gesmeerde vierkantige tertbak. Verhit melk, botter en suiker oor lae hitte tot die suiker opgelos is. Verhoog die hitte en roer tot die mengsel kookpunt bereik. Meng meel, mielieblom, vlapoeier en sout. Klop eiergele en water, roer by die droë bestanddele en meng goed. Roer ‘n bietjie van die melkmengsel daarby, meng goed en skep die eiermengsel by die res van die melkmengsel. Verhit oor matige hitte en klop tot die mengsel verdik. Verwyder van hitte en geur met vanielje geursel. Laat effens afkoel, klits eierwitte styf en vou liggies by die vlamengsel in. Skep die mengsel oor die beskuitjies, smeer gelyk en pak die orige beskuitjies bo-op die vla mengsel sodat die boonste laag beskuitjies oor die onderste laag pas. Laat in yskas om heeltemal styf te word.

Pynappellaag:
Verhit die suiker, 25ml water en die suurlemoensap, roer tot al die suikerkristalle opgelos is en kook tot sagtebal stadium. Roer pynappel by en kook 5 minute. Vryf die mengsel deur ‘n sif en smeer oor die beskuitjies. Laat in yskas tot gestol.

Glansversiersel:
Meng versiersuiker en kookwater en smeer oor pynappellaag. Laat in koelkas totdat die glansversiersel geset het. Sny in skywe.