Bladsy 7



DOEKPOEDING


5 koppies meelblom
1 koppie ontpitte rosyne
5 eiers, geel en wit geskei
1 koppie dadels
1½ koppie appelkooskonfyt
½ teelepel gerasperde neut
1 koppie botter
2 eetlepels koeksoda
1 koppie suiker
½ koppie melk
½ teelepel sout

Room botter en suiker saam en voeg die geklitste eiergele by. Voeg die appelkooskonfyt by. Snipper die dadels en voeg die rosyne by. Los die koeksoda op in die melk en gooi dit oor die vrugte. Voeg dit by die bottermengsel. Sif die droë bestanddele saam en voeg dit by die mengsel. Klop die eierwitte styf en vou dit in die mengsel in. Smeer ‘n linnedoek met botter en sprinkel meelblom oor. Skep die mengsel daarin en bind die doek toe. Los egter genoeg spasie vir die poeding om te rys. Plaas die poeding in kokende water en plaas die deksel van die kastrol op. Stoom vir 3 uur lank. Bedien met ‘n sous van jou keuse, maak ‘n lekker wynsous smaak heerlik hierby.


INGEDAMPTE MELKPOEDING


1 blik ingedampte melk (Ideal melk)
1 blik Caramel Treat kondensmelk
1 koppie kookwater
1 pakkie appelkoosjellie

Plaas die ingedampte melk oornag in yskas. Los die jellie op in die kookwater en laat afkoel. Klits die ingedampte melk tot styf en voeg die kondensmelk by. Voeg die jellie by en meng goed. Gooi in ‘n poedingbak en plaas in yskas om te stol.


DANIEL SE TRIFLE


1 gebakte Swissroll
4 koppies dik vla (louwarm)
1 pakkie framboosjellie (aangemaak en gestol)
3 groenvye, gekap in stukkies
1 pakkie lemmetjiejellie (aangemaak en gestol)
2 koppies soetwyn (enige soort)
1 pakkie aarbeijellie (aangemaak en gestol)
½ koppie gekapte okkerneute
2 stukke gemmer, in stukkies (wat in stroop lê)
500ml room, styf geklop
3 stukke waatlemoenkonfyt, in stukkies
10 rooi kersies
1 pak Romany Creams of klapperkoekies
``100's & 1000's''

Pak 'n deurskynende diep glashouer van bodem tot kant uit met dun gesnyde Swissroll-skywe styf teenmekaar. Giet die soetwyn oor die koek sodat dit deurnat is. Sny die gestolde jellie (al die soorte) in klein blokkies en meng dit. Skep 'n laag in bak, pak 'n paar Romany Creams op en gooi stukkies vye, waatlemoenstukke en gemmer bo-op. Gooi dan toe met vla lekker dik. Herhaal proses totdat alles klaar is. Versier met room en kersies en ``100's & 1000's''. Laat staan vir 10 uur voor eet.


LEMOENHEERLIKHEID


26 malvalekkers
¾ koppie water
1 suurlemoen se skil
3 lemoene se sap
1 koppie room, geklop

Verhit die water in ‘n dubbelkastrol en voeg lekkers by. Verhit tot die lekkers gesmelt is en laat afkoel. Voeg die sap en skil by. Voeg die geklopte room by. Plaas in die yskas om te stol.


SKRIKKELJAARPOEDING


110ml margarien
125ml suiker
2 eiers (geskei)
250ml ongesif afgemeet koekmeelblom
10ml bakpoeier
knypie sout
375ml melk
25ml strooisuiker
100ml fyn appelkooskonfyt

Stel die oond op 180C en smeer ‘n vuurvaste skottel van 24cm in deursnee. Klop die maragrien en suiker saam tot romerig. Voeg die eiergele by en meng. Sif die koek meelblom, bakpoeier en sout saam en roer beurtelings met 75ml van die melk by die suikermengsel. Gooi die beslag in die bakskottel en bak vir 30 minute. Klits die eierwitte en strooisuiker saam tot styf, net voor die poeding uit die oond gehaal moet word. Haal die poeding uit en gooi die oorblywende melk bo-oor. Smeer die konfyt bo-op en bedek met die eierwit. Plaas terug in die oond en bak nog ‘n paar minute tot die meringue verbruin. Sit warm voor.
Lewer 6 porsies.


GEBAKTE GRENADELLA TERT


KORS:
150g botter
250ml versiersuiker
2 groot eiers
500ml koekmeelblom
125ml fyn amandels
3ml fyn kaneel

VULSEL:
250ml room
110g grenadellamoes
25ml mielieblom
6 eiergele
125ml strooisuiker
125ml amandelsplinters

BOLAAG:
110g grenadellamoes
12.5ml mielieblom

KORS:
Meng botter en versiersuiker in voedselverwerker. Voeg eiers by en meng goed. Voeg meelblom, amandels en kaneel by, meng om bal te vorm. Haal uit, draai in kleefplastiek toe en sit in yskas vir 1 uur. Rol uit en voer ‘n 220mm tertbord uit. Prik boom. Sit tertpan in yskas vir 20 minute. Voorverhit die oond tot 200C. Bak vir 12 minute, haal uit en laat afkoel.

VULSEL:
Meng room, grenadella en mielieblom, verhit tot warm. Klits eiers en strooisuiker in boonste deel van dubbelkoker tot lig en skuimerig. Klits warm roommengsel by. Roer oor hitte tot dik. Gooi uit, koel af. Strooi amandels in tertdop, maar hou ‘n paar eenkant vir versiering. Skep vlamengsel in tertdop.

BOLAAG:
Verhit die grenadellamoes en mielieblom tot begin verdik en skep bo-op. Versier met res van amandels. Bêre in yskas tot met opdiening.


PAVLOVA MET KARAMEL EN PIESANG


MERINGUE:
8 ekstra-groot eierwitte
375ml strooisuiker

VULSEL:
379g karamel kondensmelk
250ml room
60ml melk
60ml karamel-kitspoeding
125ml dik jogurt
6 ryp piesangs in skyfies gesny

Voorverhit die oond tot 130C en voer 2 bakplate met aluminiumfoelie. Bestuif met mielieblom. Klits eierwitte in groot glasbak tot styf maar nie droog nie. Voeg suiker lepelsgewys by terwyl dit aanhoudend geklits word. Hou aan klits totdat alle suiker opgelos is. Verdeel mengsel in 2 en vorm 2 sirkels, 20cm in deursnee op bakplate. Bak vir 10 minute lank, verlaag dan hitte na 110C en bak dan vir nog ‘n verdere 55minute of totdat die meringue droog is of effens hol klink wanneer daarteen getik word. Verwyder uit die oond en laat afkoel.
Klits karamel-kondensmelk, room, melk en kitspoeding vir vulsel saam tot goed gemeng. Vou jogurt in en plaas in yskas tot wanneeer benodig. Skep op meringue en rangskik piesang bo-op.


LEMOEN FUDGE YSKASTERT


200ml vars lemoensap
50ml Van der Hum-likeur
125g vingerbeskuitjies
200g melksjokolade, in blokkies gebreek
gerasperde skil van een lemoen
125ml room
30ml botter
50ml strooisuiker
10ml gelatien (gespons in 45ml water)
250ml room, ekstra
5ml vanieljegeursel
2 eierwitte

Meng lemoensap en likeur en giet in ‘n vlak skottel. Doop vingerbeskuitjies hierin en rangskik die beskuitjies op die bodem van ‘n tertbak. Drup enige vloeistof wat oorbly oor die beskuitjies. Smelt sjokolade, lemoenskil, room, botter en strooisuiker oor warm water of in die mikrogolfoond. Smelt gelatien en roer by gesmelte sjokolade. Laat effens afkoel. Dit sal dikker word, maar moenie wag tot dit stol nie. Klop room styf en vou saam met vanieljegeursel by sjokolademengsel. Was klitser en klop eierwitte styf. Vou ook by sjokolademengsel in. Gooi oor beskuitjies in tertbak en plaas in yskas tot gestol.
Lewer 6-8 porsies.


PERE-VREUGDE


1 eetlepel gelatien
250ml warm melk
3 eetlepels strooisuiker
250ml fyngemaakte pere
¼ koppie koue water
3 eiers, geel en wit apart
5ml vanielje geursel
12.5ml suurlemoensap
250ml room

Week gelatien in koue water. Klits eiergele en suiker goed en voeg die warm melk by. Verhit stadig en kook tot dit gaar is. Voeg die gelatien by en klop goed. Verwyder van hitte en voeg die geursel by. Meng pere en suurlemoensap en voeg dit by die warm mengsel. Laat afkoel. Vou styf geklopte eierwitte en geklopte room in. Gooi poeding in ‘n vorm en plaas in yskas om te stol. Bedien met geklopte room.